Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Gees teen die chaos

Die Gees van God het oor die waters gesweef (Gen 1:2).

Wanneer die Heilige Gees werk, is dit nie altyd so opsigtelik nie. Hy werk op ’n meer verborge manier, diep in die harte van mense. Die Gees dring Homself nie op die voorgrond nie, maar is eerder “de stille Geleider”, soos JH Bavinck, die Nederlandse teoloog, sê. Tog werk die Gees nie net op hierdie manier in die harte van mense nie. Sy werk kan oral in die wêreld en in die geskiedenis gesien word. Hy was trouens as God reeds in die skeppingsmoment werksaam (Gen 1:2).

Deur die geskiedenis heen kan die tekens van die Gees se teenwoordigheid bespeur word: in die wetenskap, in die kuns, in die kultuur, in die volkerewêreld en in die onderhouding van die natuur. ’n Mens kan sê: Alles in die lewe wat mooi en goed is, is tekens van die Gees se werk. Dit is Hy wat verhoed dat alles in chaos verval, dat mense mekaar geheel en al verdelg. As dit nie vir Hom was nie, het ons in ’n oogwink in die niet verdwyn …

Maak net jou oë oop en jy sal die Gees sien werk. Daar is “wonderwerke” oral rondom jou heen. In die wisseling van die seisoene, in die vroeë lente wanneer boom en blom herleef na die doodsheid van die winter, sien ons die magtige, kreatiewe werk van die Gees.

Ons hoef werklik nie ver te gaan om die Gees aan die werk te sien nie. Slaan net jou Bybel oop en sit die “bril van die Skrif” (Calvyn) op; stap uit in jou tuin en hou ’n blom in jou hand vas. Doen dit vandag nog.

Alles in die lewe wat mooi en goed is, is tekens van die Gees se werk.

Heilige Gees, omskep die chaos van my hart tot harmonie vir God. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.