Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Skuldig aan sonde

       “En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde” (Joh 16:8).

Kort voor Jesus se kruisiging het Hy in sy laaste gesprekke met sy dissipels self ’n kort “opsomming” van die werk van die Heilige Gees gegee. Jesus het die Gees genoem die Voorspraak wat sou kom (Joh 16:7; 1 Joh 2:1). Volgens Johannes 16:8 behels die werk van die Gees onder meer hierdie drie dinge: Die Gees sal bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, dat die reg aan Jesus se kant is, en dat die oordeel reeds gekom het.

Die eerste wat die Gees dus doen, is om die wêreld van sonde te oortuig, want die wêreld glo nie in Jesus nie (Joh 16:9). En hierdie taak van die Gees is sekerlik nodig, want as daar een waarheid is wat ons as mense moeilik insien, is dit dat ons sondaars is. Ons hele wese skop daarteen. Ons geliefkoosde tegniek is om ons skuld op ander te plaas. Dit gebeur al sedert die dae van Eden. Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang. Dit is soos die man wat ’n moord gepleeg en homself toe probeer verontskuldig het deur te sê: “Die duiwel was te sterk vir my!” Ja, ons gee die duiwel graag die skuld (al is hy natuurlik geensins onskuldig nie).

Die Gees kom deurbreek egter ons skuldprojeksies. Hy laat ons sien wie en wat ons werklik is. Veral openbaar Hy ons opstand teen God aan ons, wat tot uiting kom in die feit dat ons op soveel maniere vir Jesus, ons Verlosser, verwerp.

Mag jy genade ontvang om op te hou vinger wys na ander. Mag die Gees jou die vinger na jouself laat wys en sê: “O God, wees my, sondaar, genadig” (Luk 18:13).

Mag jy genade onvang om op te hou vinger wys na ander.

Gees, buig my vinger om na myself, en maak my oë oop vir u genade. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.