“… en dat die oordeel al gekom het” (Joh 16:8).
Jesus het gesê die Heilige Gees sal die wêreld oortuig van sonde en dat die reg aan Jesus se kant is, maar die Gees sal ook bevestig dat die oordeel reeds gekom het, want die owerste van hierdie wêreld, Satan, is klaar veroordeel (Joh 16:11).
Net soos met die feit van ons sondigheid, het die Gees groot moeite om ons te oortuig dat die oordeel oor Satan al gevel is. Ons aanvaar dan nie eens altyd die bestaan van so ’n wese soos die duiwel nie. En as ons wel aanvaar dat die Bose bestaan, kan ons beswaarlik glo dat hy reeds veroordeel is, dit wil sê, reeds oorwin is. Hy lyk dan so aktief, so magtig! As ’n mens eers sy doen en late in die wêreld begin raaksien, kan jy moeilik glo dat sy mag reeds gebreek is, dat Christus hom getroef en kragteloos gemaak het.
Die Gees moet daarom die geloof in ons bewerk dat Jesus die Here ook oor die Bose is. Ook in hierdie opsig verbind Hy ons aan Jesus. Anders gestel, die Gees laat ons verby die Bose se vertoon van mag kyk – na Jesus. Die Gees sê: Kyk na Jesus! Sien Jesus! Hy wil hê ons moet net oë hê vir ons Verlosser, die Oorwinnaar …
Moenie vandag toelaat dat die duiwel jou uitsig belemmer nie. Selfs al voel dit vir jou of dit net hy is wat sigbaar is. Laat die Gees jou oë open. Kyk na Jesus! Sien Jesus!
Die Gees sal die geloof in ons bewerk dat Jesus die Here is, ook oor die Bose.
O Heilige Gees, ek het so dikwels net oë vir die Bose en het oogklappe aan wanneer ek na Jesus moet kyk. Ruil dit om. Amen.
Johan Cilliers