Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Goddelike sonar

“Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig” (Joh 16:14).

Jesus het belowe dat die Heilige Gees ons in die hele waarheid sal lei (Joh 16:13). Wat sou die hele waarheid behels? Daar is die waarheid oor sonde, reg en oordeel (16:8). En veral die waarheid oor Jesus (16:14). Die Gees maak ons sensitief vir die waarheid; Hy wys ons op gevare en dui vir ons die regte koers aan.

’n Mens kan sê dit werk byna soos die sonar van ’n duikboot. Die bemanning in die duikboot kan nie op hulle menslike sig staatmaak nie. Dikwels is die water te troebel, te donker, te diep. ’n Duikboot kan hom egter maklik te pletter loop teen die bodem van die oseaan. Dit kan maklik bots teen die rotse en die riwwe, of teen ’n boot. Maar deur middel van ’n sonar word die onbekende ondersese omgewing gekarteer. Die sonar wys gevare uit en dui die regte koers aan. Totdat die duikboot veilig by sy bestemming kom.

Hoe versterk dit ons om te weet: Só lei die Heilige Gees ons! Daar bestaan natuurlik die verskriklike moontlikheid dat ons al die tekens kan ignoreer, dat ons die waarskuwings van die Gees kan verontagsaam, dat ons stokblind in die stikdonker kan bly uitstaar. Dis fataal. Dom.

Daarom: Wees vandag oop, ontvanklik, sensitief vir die stem van die Gees. Hy woon in jou en Hy wil jou in die waarheid lei. Tot by jou ewige bestemming …

Daar bestaan die verskriklike moontlikheid dat ons die waarskuwings van die Gees kan verontagsaam.

O Gees van God, ek bely dat my sonde dikwels u sonar doodsmoor. Stuur tog nogmaals u seine! Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.