Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Jy is nie ’n duplikaat nie

Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal (1 Kor 12:7).

Die Heilige Gees werk met ons elkeen op ’n unieke manier, op ’n heel persoonlike manier. Hy neem in ag wie en wat ons is. Daarom behoort ons nie daarna te hunker dat die Gees in ons lewe presies moet werk soos in ander gelowiges se lewe nie. Die Gees dupliseer nie. Sy werk is altyd oorspronklik. En, dít wat Hy in ons elkeen se lewe doen, is wonderlik. Dit is deel van God se plan vir ons lewe.

Dit geld ook in die besonder vir die gawes wat die Gees aan die kerk en dus ook aan ons gee. Dié gawes verskil van mens tot mens, maar almal word deur dieselfde Gees gegee – tot opbou van die kerk. “Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal” (1 Kor 12:7). Ons almal het minstens een gawe ontvang. Almal ontvang nie alles nie, maar niemand ontvang glad niks nie.

Jy het ’n gawe!

Dit is iets om oor opgewonde en dankbaar te wees. In sy wysheid en genade wil die Gees ons gebruik. Ons almal. Daarom mag ons nie dink dat ons gawe minder belangrik is as ander s’n nie. Dikwels is juis dié gawes wat die onopvallendste is, dié wat minste sensasioneel voorkom, die belangrikste (12:22-23).

Doen daarom moeite om te ontdek wat die gawe(s) is wat die Gees jou gegee het en waarmee Hy jou toegerus het. Hy maak op jou staat.

Almal ontvang nie alles nie, maar niemand ontvang glad niks nie.

Gees van God, ek dank U dat daar niemand soos ek is nie omdat daar niemand soos U is nie. Gee dat ek ander met my uniekheid sal dien. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.