Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die liefde is anders

Dit soek nie sy eie belang nie (1 Kor 13:5).

Die allerbeste gawe, hierdie liefde wat die Heilige Gees aan ons gee, is anders as bloot menslike liefde.

In hierdie wêreld word daar baie oor “liefde” gesing, gepraat, geskryf, gedig. Dalk te veel. Dalk verloor die liefde iets van sy waarde deur hierdie oorgebruik? Feitlik elke liedjie op die Top 10 gaan op die een of ander manier oor die liefde. ’n Ou treffer vat die algemene gevoel mooi raak: “It’s love that makes the world go round.”

Maar ook die (menslike) liefde is aangetas deur die sonde. Dit het ons ongelooflik selfsugtig gemaak. Want wanneer ons liefhet – selfs al sou ons dit heftig wou ontken – draai dit meestal om onsself. Ek het iemand lief … omdat hy of sy iets vir my kan beteken. Ek wil iets uit die verhouding kry. Die geliefde moet vir my waarde hê.

Die liefde wat die Gees in ons harte uitstort, is anders. “Dit soek nie sy eie belang nie” (1 Kor 13:5). Dit is nie afhanklik van wat die ander persoon vir my beteken of wat ek uit die verhouding kan kry nie. Dit is nie gegrond op die waarde wat ek uit die ander kan kry nie. Dit is ’n liefde wat eerder iets vir die ander wil beteken, wil gee. Dit gee aan die ander ’n waarde, die waarde van geliefde.

Dit kan ons net doen wanneer ons oorweldig word deur die besef dat God ons presies só liefhet. Hy het aan ons waarde gegee – die reg om sy geliefde kinders te wees.

Kan ons dan anders as om ander mense ook só lief te hê? Gelukkig maak die Gees dit vir ons moontlik.

Die liefde van God gee aan ons waarde, die waarde van “geliefde kind van God”.

Gees van God, vervang my waardelose liefde met u waardevolle liefde, wat waarde aan my en ander gee. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.