Die liefde vergaan nooit nie (1 Kor 13:8).
Al die gawes wat die Heilige Gee aan ons gee, sal eendag nie meer daar wees nie. Dit sal inderdaad nie meer nodig wees nie. So sê die Bybel. “Die gawe om God se boodskap te verkondig, sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak” (1 Kor 13:8-9). Want eendag sal dit nie meer nodig wees om God se boodskap aan (ongelowige) mense te verkondig of God in ’n vreemde taal aan te roep of om kennis na te jaag nie. “Want ons ken maar gedeeltelik, en ons verkondig God se wil maar gedeeltelik, maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees” (13:9-10).
Maar die liefde – dít sal bly! Dit vergaan nooit nie (13:8). Terwyl al die gawes soos blare in die herfs van ’n boom sal val, bly die liefde immergroen. Dit is die boom waaraan alles gedra word. Die liefde is die koord wat ons bind aan die ewigheid. Dit beteken: As ons nou liefhet met die liefde wat die Gees gee, is ons reeds besig met wat ons in die ewigheid gaan doen, ja, dan laat ons iets van die ewigheid in die hede deurbreek. Om lief te hê is die sinvolste aktiwiteit waarmee enige mens besig kan wees. Die liefde is waarom alles gaan …
Jy kan vandag iets doen wat blywend is, iets wat nie deur ouderdom of die eeue geraak word nie. Reik uit na iemand. Betoon God se liefde. Dit is die ewigheid, nou.
Terwyl al die gawes soos blare in die herfs van ’n boom sal val, bly die liefde immergroen.
O Gees, vul hierdie oomblik met die ewigheid, die liefde, U seIf. Amen.
Johan Cilliers