“… en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig” (Joh 16:13).
Die Heilige Gees doen so baie vir ons. Hy help ons om die betekenis van Christus se werk te verstaan. Hy pas die geskiedenis van Jesus se geboorte, kruisdood, opstanding en verheerliking op ons toe. Maar Hy verklaar ook die toekoms vir ons en gee só aan ons hoop. Hy verkondig aan ons die dinge wat gaan kom (Joh 16:13). Die Gees bemoedig ons deur ons vorentoe, boontoe, te laat kyk, van waar ons die Here verwag.
Die Nederlandse teoloog Van Ruler gebruik ’n interessante beeld om hierdie werk van die Gees te verduidelik. Hy sê dit laat hom dink aan ’n hond met die naam Kees. In die stad Utrecht, waar daar merendeels van gasverhitting gebruik gemaak word, is Kees baie nuttig ingespan, want hy het ’n uitermate skerp sintuig vir enige sweempie van gas in ’n huis gehad. Só kon hy mense vroegtydig van ’n lekkasie bewus maak.
Maar ons, sê Van Ruler, het meer as Kees!
Ons het die Gees! Hy is die groot sintuig vir die toekoms, vir die uiteindelike bestemming van die wêreld. Deur Hom word ons vroegtydig bewus gemaak van dit wat gaan kom. Die Gees leer ons om met ander oë na die wêreld te kyk. Hy help ons onthou dat hierdie wêreld met al sy verleidelike begeertes verbygaan, “maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe” (1 Joh 2:17).
Beleef jy tans ’n tyd van bekommernis en benoudheid? Kan jy nie verder sien as die vier mure van jou kamer of die grense van jou leefwêreld nie? Vra dan die Gees om jou oë oop te maak vir die heerlikheid van die toekoms.
En wees bly …
As jy nie verder kan sien as die vier mure van jou kamer nie, vra die Gees om jou oë vir die toekoms te open.
Heilige Gees, Iaat my u môre sien, vandag. Amen.
Johan Cilliers