Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Onthou God se trou

Die Here het groot dinge aan ons gedoen; ons was bly (Ps 126:3).

Die geskiedenis van die kerk is nie altyd ’n mooi geskiedenis nie. Heel dikwels het die kerk die spoor byster geraak. Heel dikwels was die kerk sonder enige betekenis vir die wêreld om hom heen. ’n Mens dink aan die ure en dae wat by ’n sekere “sinode” in die vroeë kerkgeskiedenis vermors is op argumente oor die belaglike vraag hoeveel engele op die punt van ’n naald sou kon staan – en dit terwyl die wêreld besig was om te smag na ’n lewende woord van God! Ons het baie rede tot verootmoediging. Ja, ook ons moet die kop in skaamte laat sak …

Tog het ons ook rede om bly te wees, want daar is baie om oor dankbaar te wees. Ons weet: God het ons in die kerk en in ons persoonlike lewe oor hoogtes en deur dieptes heen tot hier gebring. Iets hiervan verwoord Paulus wanneer hy hom voor keiser Agrippa verdedig en ’n terugblik op sy veelbewoë geskiedenis gee. Hy sê: “Omdat God my tot vandag toe bewaar het, staan ek hier as sy getuie voor klein en groot” (Hand 26:22).

Jy kan dieselfde sê! As jy dan vandag mismoedig voel, dink terug aan die geskiedenis van die kerk en aan die groot dinge wat God vir ons gedoen het (Ps 126:3). Dink terug aan jou stukkie geskiedenis … en onthou die trou van God. Ons vergeet so maklik. Calvyn het gesê:

“Daar hoef net ’n blaar te ritsel, dan begin ons bewe asof God ons vergeet het, al het ons vroeër die heerlikste ervarings van Goddelike bewaring gesmaak.” Moenie dat blare wat vandag ritsel jou laat bewe nie. Wees eerder bly oor die trou van God.

Ons weet God het ons oor die hoogstes en deur die dieptes tot hier gebring.

Here, ek kyk terug en raak getroos; daarom kyk ek vorentoe en skep moed. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.