Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die Beskermer

Moenie bang wees nie, Ek is by jou (Jes 43:5).

God bewaar sy kerk. Vir menslike oë is dit egter nie altyd sigbaar nie. Want God bewaar sy kerk nie soos ’n mens ’n porseleinpoppie in watte toedraai nie. Hy haal die kerk nie uit die wêreld weg nie. Daarom word gelowiges ook getref deur rampe, beland hulle ook in krisisse, word hulle ook siek, spring hulle die konfrontasie met die dood nie vry nie.

Maar … in dit alles bewaar God ons! In Jesaja 43:2-3 en 5 staan die bekende belofte: “As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God … Moenie bang wees nie, Ek is by jou.”

Om hierdie waarheid in te sien het jy geloofsoë nodig. Luther sê die Woord belowe ons blykbaar “absurde, ongelooflike en onmoontlike dinge” (absurdia, incredibilia, impossibilia). “Op hierdie Woord,” sê Luther, “antwoord die menslike hart met: Dit is ydele leuens. Dit is mos nie ‘beskerming’ as ons in die gevangenis gewerp word, as die beul ons hande vasbind, as die duiwel ons moeg maak, as die Seun van God gekruisig en as Johannes onthoof word nie? Daarom is teologie … teenspraak. Na die vlees is God die Een wat verontagsaam, maar na die Gees en sy beloftes is Hy die Beskermer.”

Hou in jou krisis aan die Beskermer vas. Sy nabyheid is genoeg. Dit maak al die verskil.

“Na die vlees is God die Een wat verontagsaam, maar na die Gees en sy beloftes is Hy die Beskermer.”

Here, wees ook vandag by my. Beskerm my. Soos U wil. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.