“Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel” (Matt 10:30).
God bewaar sy kerk op baie maniere: in die groot wendings van die geskiedenis én in die klein gebeurlikhede van elke dag. God het ’n oog vir fyn besonderhede. Jesus sê vir sy dissipels:
“Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies” (Luk 12:6-7).
Glo jy in God se bewaring? Daar word vertel van ’n priester wat in ’n tyd van Christenvervolging vir sy lewe moes vlug. Hy kon sy agtervolgers nie afskud nie en hulle sou hom binnekort inhaal. Hy storm toe by ’n ou skuur in. Daar merk hy ’n skeur in die een bouvallige muur – net groot genoeg vir hom om in weg te kruip. Terwyl hy hygend daar sit, sien hy hoe ’n spinnekop aan sy ragfyn draad voor hom afsak en met meesterlike kunstigheid sy spinnerak begin weef. Ná ’n uur of wat was die ingang na die skeur toegespin.
Net toe kom sy agtervolgers, wat sy spoor tot voor die skuur gevolg het, daar ingebars. Hulle steek oral in die strooi met hulle swaarde, oortuig dat die priester daar moet wees. “Gaan kyk gou daar in die skeur,” sê die leier van die groep. “Hy kruip seker daar weg.” Toe die soldaat egter die spinnekop se web voor die opening sien, sê hy: “Nee, hier is dit die ene spinnerakke. Niemand het hier ingeklim nie.”
En toe is hulle vort …
God se tydsberekening was volmaak. Sy agent, die spinnekoppie, was op sy pos. Want ’n kind van God moes beskerm word – een wat meer werd was as baie mossies, een van wie elke haar getel is. God het sy nietige skepsel nie vergeet nie.
God bewaar sy kerk in die groot wendings van die geskiedenis én in die klein gebeurlikhede van elke dag.
Here, help my om in die klein dinge u groot sorg raak te sien. Amen.
Johan Cilliers