Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Onheilige heiliges

“Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet 1:1).

Dit is iets merkwaardig wat ons hier bely: dat ons aan ’n heilige kerk glo. Ons weet maar te goed dat ons en ander gelowiges nie heilig is nie. Inteendeel. Tog sê die Apostoliese Geloofsbelydenis hierdie woorde omdat die Woord so sê. Paulus noem byvoorbeeld die gelowiges in Korinte – gewone mense soos jy en ek – “geroepe heiliges” (1 Kor 1:2, 1953-vertaling). Om dit te kan verstaan, moet ons die volgende twee sake in gedagte hou:

Eerstens, in die oë van God is ons heilig. Hy kyk na ons deur die “bril” van Jesus, sy Seun. Daarom kwalifiseer Paulus die heiligheid waarvan hy praat as “geheiligdes in Christus Jesus” (1 Kor 1:2). Dit is nou reeds waar van ons, van die kerk. Dit staan vas, in Christus. Dit leer ons om met ander oë na onsself en na ander gelowiges te kyk – heiliges in God se oë!

Tweedens, dit wat reeds “objektief” van ons en die kerk waar is, moet nou ook in die lewe van dag tot dag “subjektief” uitgeleef word, Dus, al is ons heilig, word ons ook tot heiligheid opgeroep. Ons kan nie maar berus in die praktyk van ons onheiligheid nie. Die Here sê: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet 1:16).

So leef Christene dan in ’n skynbare teenstrydigheid, ’n paradoks – as onheilige heiliges. Maar ons leef só dat eersgenoemde woord al kleiner word en laasgenoemde al groter.

Hoe vorder jy?

God kyk na my deur die “bril” van sy Seun, Jesus Christus.

Here, heilig my, die onheilige. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.