Boodskap vir Vandag

Search

Jesus is my heiligheid

Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Kor 3:18).

Ons meen dat heiligmaking net daaruit bestaan dat ons ’n klomp dinge in ons lewe moet bykry – soos meer liefde, geduld en vergewensgesindheid. Of dat ons ’n klomp dinge in ons lewe moet doen – soos om meer te bid, Bybel te lees en kerk toe te gaan. Dit is natuurlik alles waar en baie belangrik, maar heiligmaking begin nie hiermee nie. Heiligheid begin deurdat ons al hoe meer van Jesus in ons lewe openbaar omdat Hy groter beslag op ons lewe kry.

Goeie Christene loop gevaar dat hulle, in hulle strewe na heiligmaking, geweldig introspektief raak. Hulle let die hele tyd net op hulleself en wonder: Het ek nou genoeg liefde? Bid ek genoeg? Doen ek genoeg goeie dinge vir ander?

Die punt van heiligmaking is egter juis dat ons moet leer om van onsself weg te kyk – na Jesus. Hoe meer dit gebeur, hoe meer vertoon ons lewe tekens van vergewensgesindheid en liefde; hoe meer raak ons besig met gebed en die Woord. In heiligmaking gaan dit allereers om ’n verhouding met Jesus waarin sy beeld al hoe meer in ons verskyn. 2 Korintiërs 3:18 beskryf dit soos volg: Ons moet al meer verander word “om aan die beeld van Christus gelyk te word”.

Daar gebeur twee dinge met ’n mens wat na Jesus kyk. Jy word eerstens so bewus van jou sonde dat jy wil wegvlug. Tweedens word jy so bewus van God se genade dat jy na Jesus toe wil vlug sodat die gestalte van die Seun van God in jou gevorm kan word.

Kyk daarom weg van jouself … na Jesus. En word heilig.

In die proses van heiligmaking leer ons om van onsself af weg te kyk – na Jesus.

Here Jesus, vandag het ek net oë vir U. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.