Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Dié wat aan die Here behoort

Aan almal wat deur Christus Jesus aan God behoort … (Fil 1:1).

God se mense – ek en jy – is die kerk. Die oorspronklike betekenis van “kerk” is juis: “dié wat aan die Here behoort”. Ook Paulus beskryf die kerk dikwels as mense wat “deur Christus Jesus aan God behoort” (Fil 1:1). As ’n mens aan iemand “behoort”, beteken dit tog daardie persoon is in beheer van jou lewe. So is dit met ons en ons Eienaar. Geen ander heer as die Here Jesus Christus mag heers oor ons wat aan Hom behoort nie. Ons hoogste lojaliteit is vanselfsprekend aan die Here van die kerk, Jesus Christus. Dit is iets om bewustelik te onthou, want dit gebeur so maklik dat ander mense of sake vir ons belangriker word as die hoofsaak, dat ons ons hart verpand aan ander …

“Dislojaliteit” aan Jesus Christus kan baie vorme aanneem. Ons is soms eerder gehoorsaam aan ’n politieke party, ’n ideaal, ’n volksgevoel, nasionalisme, groepsdruk, prestasiebeheptheid … Natuurlik is hierdie dinge nie noodwendig verkeerd nie. Maar die gevaar kom in wanneer ons nie meer vry bly van die belange nie, wanneer ons nie meer krities daarteenoor kan staan nie, wanneer ons dié wat daarin verkeerd is nie uit die Woord kan aanspreek nie.

Anders gestel, in al die lewensverbande waarin ons staan, moet ons vry voel om te getuig van die Here van die kerk, wat ook ons persoonlike Verlosser is. Daar is immers nie ’n duimbreedte van die aarde wat nie aan Hom behoort nie. Ook by die werk, waar ons studeer, in ons verhoudings of huwelik, teenoor ons familie, in die sportwêreld, oral moet ons getrou bly aan die Here. As mense ons sien hoe optree, moet hulle weet: Hy of sy is ’n Christen. Hoe kan dit anders? Ons is dan Christus se eiendom! Niemand anders s’n nie.

Ons hoogste lojaliteit is aan die Here van die kerk.

Here, ek, en alles wat aan my behoort, behoort aan U. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.