“Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem me, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar” (Joh 17:15).
Die kerk is “anders” as die wêreld, en hierdie andersheid moet sigbaar wees om ’n impak te kan hê. Ons mag daarom nooit so deel van die wêreld rondom ons word dat die verskil tussen kerk en wêreld geheel en al opgehef word nie. 1 Petrus 2:11 sê ons, die kerk, moet altyd soos “vreemdelinge en bywoners” bly – in die wêreld, maar nie van die wêreld nie (Joh 17:15-16). Wanneer kerk en wêreld so gladweg soos ’n handskoen en ’n hand op mekaar begin pas, is dit tyd vir besinning. Die kerk en die wêreld behoort eerder altyd ’n bietjie haaks te bly.
Jy ken dalk die bekende vraag: As jy daarvan aangekla sou word dat jy ’n Christen is, sou daar genoeg getuienis wees om jou skuldig te bevind? Dink ’n bietjie hieroor na. Is jou lewe anders? Leef jy volgens ander beginsels as die gemiddelde wêreldling? Is jy opvallend ’n Christen?
Kom ons wees prakties: Sal jou man, vrou, kinders, meisie, ou, kollegas, klasmaats vandag kan sien dat jy ’n Christen is op grond van jou woorde? Sal hulle veral uit jou dade (want woorde is maklik!) kan aflei dat jy onder die heerskappy van ’n ander Here, naamlik Jesus Christus, leef? Of is jy maar “een van die groep”?
Maak ’n lysie van die getuienis wat teen jou as Christen in die beskuldigdebank ingebring sou kon word. Dalk staan jy beskaam. Ek weet in my geval is die lysie maar kort.
As jy daarvan aangekla sou word dat jy ’n Christen is, sou daar genoeg getuienis wees om jou skuldig te bevind?
Here, ’n aanklag dat ek ’n Christen is, sal my aankla dat ek nie ’n Christen is nie. Verander my! Amen.
Johan Cilliers