Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Breek … en boks!

Ek slaan soos ‘n bokser wat nie in die lug slaan nie (1 Kor 9:26).

Aan die een kant mag die kerk nooit volkome deel van die wêreld wees nie, maar aan die ander kant mag die kerk hom ook nooit aan die wêreld onttrek nie. Daar moet altyd ’n balans wees tussen vereenselwiging met die wêreld (omdat ons ook mense is), teenoor afstand van die wêreld (omdat ons uit die greep van die wêreld verlos is). Natuurlik is dit vir ons as kerk en individuele gelowiges nie altyd so maklik nie.

Flip Theron beskryf in ’n pragtige beeld die verhouding tussen kerk en wêreld, die balans tussen vereenselwiging en afstand. Dis soos twee boksers, sê hy, wat soms teen mekaar val en aan mekaar vashou wanneer hulle moeg is. Dan deel hulle onderling sulke ligte lyfhoutjies uit – dis nie uitklophoue nie en kan ook nie te veel punte verdien nie. Dan lyk dit meer na ’n gevry as ’n baklei. Die skeidsregter moet dan ingryp en die twee uitmekaarhaal sodat hulle verder kan boks en houe kan verwissel wat deurslaggewend vir die geveg sal wees. Telkens moet hulle hoor: “Breek … en boks!”

Dalk het jy êrens teen die wêreld vasgeval. Dit kan ’n sonde wees wat jou vashou, ’n boesemsonde wat jou al jare lank ondoeltreffend maak in jou getuienis teenoor die wêreld. Dalk het wêreldse standaarde en beginsels jou ’n bokser gemaak wat eintlik maar in die lug slaan (1 Kor 9:26).

Kry weer afstand. Hou op vry … en baklei!

Die kerk moet ’n balans handhaaf tussen vereenselwiging met die wêreld en afstand van die wêreld.

Here, wees U my afrigter in die bokskryt. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.