Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus is julle almal een (Gal 3:28).
Ons bely Sondag na Sondag dat ons glo die kerk is nie net heilig nie, maar ook algemeen of “katoliek”, soos dit in die oorspronklike taal lui. Wat bely ons wanneer ons dit sê?
Eerstens, verskille tussen mense in die kerk van die Here is nie deurslaggewend nie.
’n Geweldige stelling! Want hoeveel verskille ís daar nie tussen mense nie! Dink maar aan agtergrond, kultuur, taal, sosiale stand, politieke sieninge en sentimente, intellektuele en kreatiewe vermoëns, verskille tussen man en vrou, tussen ouers en kinders, werkgewers en werknemers, en nog vele meer.
Maar die kerk van die Here is algemeen. Dit beteken nie al hierdie verskille verdwyn soos mis voor die oggendson nie. Dit beteken wel dat ons ’n eenheid beleef wat al hierdie sake oortref: ons eenheid in Christus. Wanneer ons almal deur die geloof in Hom een is, moet ons mekaar tog soos broers en susters sien en behandel. Ons mag mekaar nie oordeel op grond van kultuur, velkleur, finansiële posisie of maatskaplike status nie, want “dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus is julle almal een” (Gal 3:28).
Waarom dink ons dat ons daarmee iets prysgee? Ons ontvang dan juis alles! Ons het nou ware broers en susters, en ware “status”: dié van kinders van God! Ons is veral nie meer eensaam nie, maar een … met die kerk van alle eeue.
Mense wat “’n algemene kerk” bely, oordeel mekaar nie op grond van kultuur, velkleur, finansiële posisie of maatskaplike status nie.
Here, leer my om met nuwe oë na die kerk te kyk. Amen.
Johan Cilliers