Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Nie op ’n solovlug nie

En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur (1 Pet 5:9).

As ons sê die kerk is “algemeen”, bely ons daarmee dat die kerk oor die eeue en kontinente heen strek. Wat ’n geweldig troosryke gedagte! Daarmee sê ons dat ons nie alleen in hierdie wêreld staan nie, nie alleen stry vir die koninkryk van God nie, nie alleen ly vir die Here se Naam nie.

Dikwels dink ons so. Ons meen dat ons alleen ons kruis dra, dat niemand van ons weet nie, en dat alles daarom so onregverdig is. Ons vra: Waarom (net) ek?

Dit is ’n soort individualistiese denke wat ons moet aflê. Ons is nie op ’n solovlug nie, maar deel van ’n familie. Ons sing in ’n koor. Ons kan let op ander, op die groot skare geloofsgetuies rondom ons (Heb 12:1). Ons kan by hulle leer, en deur hulle volharding bemoedig word. Dink aan die kerkgeskiedenis wat ons voorafgaan. Daar was gelowiges wat baie meer as ons moes ly. Hulle deel in ons lyding, en ons in hulle s’n. En moenie vergeet nie: “Dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur” (1 Pet 5:9).

Soek ander gelowiges op. Neem hulle hande in joune. Steek jou hand uit as jy hulle nodig het. En gaan saam op weg … vorentoe.

As lid van die kerk van Christus is jy nie op ’n solovlug nie: Jy is deel van die familie van God.

Here, ek dank U dat daar baie van ons is. Ek dank U dat daar net Een soos U is. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.