Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou (2 Kor 5:18).
Baie lidmate meen die kerk is bloot daar vir ons heil, om ons te dien. Hulle het ’n soort restaurant-mentaliteit. Hulle is soos mense wat in ’n restaurant kom, die spyskaart bestudeer en hulle bestelling plaas. En wee die kelner as die bestelling nie vinnig genoeg en reg uitgevoer word nie! Dan skop hulle ’n verskriklike bohaai op, vat hulle goed en loop. En boonop dreig hulle om nooit weer na die restaurant te kom nie. Want “hier kry ’n mens nie goeie diens nie”.
Natuurlik is die kerk daar tot ons heil. Daarom noem ons predikante “bedienaars” van die Heilswoord.
Maar die kerk – alle gelowiges, ons – is nie daar om bedien te word nie. Ons is eerder hier om die wêreld te gaan dien, om die wêreld te bedien met die Woord van God. Ons is die kelners! Want God het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou (2 Kor 5:18).
Laat ons dus nie konsentreer op wat ons uit die kerk kan kry nie, maar eerder op wat ons daar kan insit, wat ons kan gee. Kom ons verander van ongeduldige gaste in bereidwillige kelners. Om Christus ontwil.
Laat ons nie kyk wat ons uit die kerk kan kry nie, maar eerder wat ons daar kan insit.
Here, ek gaan dikwels kerk toe soos ’n besoeker aan ’n restaurant. Gee my volgende keer my werkopdragte, nie ’n spyskaart nie. Amen.
Johan Cilliers