Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wees God se tuinier

Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het (1 Kor 3:6).

Die Here gebruik ons getuienis om mense tot verlossing te lei. Wonderlik! Maar dis nie ons werk om te verlos nie; ons werk is om te getuig. Die Here ken sy tyd en sy werkwyse. Dit verskil van mens tot mens. Maar hoe die Here dit ook al doen, dis die Here wat dit doen! Ons kan die plantjie van geloof plant en natgooi, maar dit is God wat laat groei (1 Kor 3:6).

’n Ouderling vertel my eendag hoe hy maand na maand, jaar na jaar teenoor een van sy kollegas by die werk getuig het. Elke oggend het hy ’n draai by die man se lessenaar gaan maak en belangstellend gevra hoe dit gaan. Hy het die man ook voortdurend in sy voorbidding aan die Here opgedra. Niks het gebeur nie. Die man het afsydig en selfs onbeskof gebly.

Een oggend, na nog ’n afjak, het die ouderling besluit om nooit weer na die man terug te gaan nie. Hy sou sy hande in onskuld was … Die volgende oggend lui die telefoon op sy lessenaar. “Waarom het jy my nie vanoggend kom groet nie?” vra die gewoonlik stroewe kollega met ’n vrolike stemtoon. “Ek wou jou vertel van iets wonderliks wat verlede nag met my gebeur het. Die Here het my hart oopgemaak en ek het tot bekering gekom!”

Moet nooit moed opgee met daardie vriend, kollega of familielid van jou nie. God is aan die werk. Hou jy maar net aan met plant en natgooi …

Dit is nie ons werk om te verlos nie, maar om te getuig.

Here, ek grawe so gereeld die saadjies op om te sien of dit al groei. Laat ek tog insien hoe dom dit is. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.