Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Soos (’n) Christus vir ander

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here … Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Kor 3:18).

Die kerk se getuienistaak in hierdie wêreld neem baie vorme aan. Soms getuig ons deur woord, ander kere deur dade. Die kerk kan getuig deur sy invloed te laat uitgaan, ook na die politiek, die wetenskap en die kultuur. Maar wat ook al die geval, die uiteinde daarvan moet wees dat die wêreld die beeld van Jesus Christus in ons sien. Ons almal weerspieël immers die heerlikheid van die Here, en ons almal word verander om aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Kor 3:18).

Dietrich Bonhoeffer het gesê die kerk is niks anders nie as “Christus in die bestaanswyse van die gemeente”. Dié begrip klink vir ons moeilik, maar dit beteken eintlik dat ons, sy gemeente, Christus se teenwoordigheid, sy oë, ore, mond en stem in hierdie wêreld moet wees. In ons moet mense die Seun van God, die Verlosser van die wêreld, sien en ontmoet.

Sendelinge het op ’n dag by ’n verafgeleë en primitiewe stam aangekom. Hulle het vir die stamlede van Jesus vertel, hoe Hy geleef het, hoe liefdevol Hy was … Tot hulle verbasing het die tolk geantwoord die mense van die stam sê die man van wie hulle praat, was reeds daar by hulle. Na verdere vrae blyk dit toe dat ’n matroos, die enigste oorlewende van ’n skeepsramp daar naby, ’n ruk lank by hulle gebly het. Hy was ’n Christen en hy het soos ’n Christen tussen die stamlede geleef. In hom het hulle Jesus gesien …

Luther het gesê ’n Christen moet soos (’n) Christus wees vir ander. Wie of wat sien mense in jou leefwyse raak?

Die kerk is Christus se teenwoordigheid, sy oë, ore, mond en stem, in hierdie wêreld.

Jesus, maak my soos U, vir ander. Amen.

Johan Cilliers

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.