Adventtaal is hooptaal, vredestaal, vreugdetaal en liefdestaal.
Ons hoor elke jaar hierdie verhaal en verlang elke jaar na die geboorte van Jesus, maar ons verlange bly nuut. Iets in die koms van Jesus raak ons harte elke keer aan.
Die Jesaja-tekste wat ons gereeld in Advent lees, maak by ons ’n verlange na ’n ander wêreld wakker. Die wêreld wat God wil. Die wêreld sonder geweld, waar wolwe en skape saam bly en babatjies by die gate van adders speel.
Ons verlange moet ons opnuut bewus maak van hoe diep ons lewe in geweld versink het. Geweld op televisie, in ons woorde, in ons eie huise, tussen kinders, tussen geliefdes. Geweldswoorde, oordeel, slaan en skop. Ons verlang om in God te rus.
“Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is” (Jes 11:9).