Die eerste Sondag in Advent is die Sondag van hoop.
Jesaja 64 begin met hierdie verlange: “As U maar die hemel wou oopskeur en wou afkom sodat die berge voor U skud!” (v 1). Hierdie woorde word uitgeroep te midde van ballingskap en vyandskap. God word geroep sodat die nasies Hom kan sien en kan bewe. Tog vra hulle nie ’n eenmalige gebeurtenis nie; hulle vra uit ervaring; dit is hoe hulle God ken: “Toe U wonders gedoen het, wonders wat ons nie verwag het nie, toe U destyds afgekom het, het die berge voor U geskud” (v 3).
Die verlange na die God wat die hemel oopskeur, is na die God wat hulle Maker is. Net ’n paar verse later staan daar: “U is ons vader, Here, ons is klei en U het ons gevorm, ons is almal die werk van u hande” (v 8).
Die God wat Homself moet openbaar en wat moet help, is nie ver nie. Hy is magtig, maar die magtige Een wat met die intieme woorde “Vader” en “Pottebakker” beskryf word.
Die wonder van Kersfees is dat ons verlange bewaarheid geword het. Die hemel het oopgeskeur, maar die berge het nie gebewe nie. ’n Baba het gehuil.