Die tweede Sondag in Advent is die Sondag van vrede.
Sagaria se loflied in Lukas 1:67-79 beskryf God se ingrype in die geboorte van Johannes. Johannes was die profeet wat Jesus se pad gelyk moes maak, dié Jesus wat gebore is om lig te bring aan dié wat in die duisternis en in die skaduwee van die dood leef, om ons voetstappe op die pad van vrede te rig.
Vrede is ’n uitvang-woord. Ons kan dink dit beteken om die vrede te bewaar, om nie oor verkeerde dinge te praat nie, om stil te bly. Maar eintlik is vrede in God om die diepste skeuring en onmin tussen mense te herstel. Dit is praat, noem, oplet, bely en heelmaak. Dit vra om oop te maak wat ons eintlik wil toemaak, om te herstel wat die stukkendste is.
Vrede breek oop en maak heel. Dit is hoekom Jesus die Prins van Vrede is, die Vredemaker wat nie sonde kom bedek het nie, maar dit juis kom ontmasker het – om dit wat stukkend is heel te maak.
Advent is nie ’n tyd van die vrede bewaar nie. Dit is ’n tyd om te konfronteer om ware vrede moontlik te maak.