Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Troos

Advent is ook ’n tyd van hoop en troos. Jesaja 40:1-11 herinner ons daaraan met ʼn jubellied vol metafore. Die 1983-vertaling begin hierdie hoofstuk met die woorde: “Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby.” God wil deur sy profeet ’n nuwe tyd aankondig.

Jesaja 40 is die begin van die sogenaamde Tweede Jesaja, dié gedeelte van die boek wat in die ballingskapstyd afspeel en aan die volk ’n nuwe toekoms en redding belowe. In vers 3 word die volk opgeroep om in die woestyn vir die Here ’n grootpad reg te maak. Die magtige God kom sy volk haal.

Dan word die magtige God met nog ’n metafoor ingekleur. Dié keer met die metafoor van ’n herder. Die Magtige is ook die herder. Hy versorg sy kudde. Hy maak sy lammers in sy arms bymekaar en Hy dra hulle teen sy bors (40:11).

Advent gaan oor die teenstelling van God se mag. Die magtige Koning is die herder, die pottebakker – die Koning is in die krip. Sy mag is ’n mag ter wille van, ’n mag wat neergelê word ter wille van. Gans anders as die mag waarmee ons elke dag te doen kry, as die mag wat afbreek, seermaak en misbruik. Tog is niks sterker as hierdie dienende mag nie.

Troos my volk!

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.