Op hierdie oggend – of dalk was dit al middag – ’n doodgewone oggend, ’n oggend soos enige ander oggend, verskyn Gabriël aan Maria. Hy kom met ’n belofte, ’n bevestiging, ’n uitnodiging. Hemel en die aarde ontmoet en hierdie jong vrou word uitgenooi om dit raak te sien en te bevestig.
“Weet jy, Gabriël, dankie dat jy die moeite gedoen het, maar ek het eintlik ander dinge beplan.”
“Wat gaan die mense sê, Gabriel?”
“Hoekom ék? Ek is ʼn niks.”
Of:
“Laat met my gebeur wat u gesê het.”
Die meeste roepingsverhale, eintlik ál die roepingsverhale in die Bybel, is nie verhale waarin mense hulle kom aanbied het nie, maar verhale waarin God aan mense verskyn en hulle roep. Verhale waarin God die inisiatief neem. Waarin God wys Hy is nooit werklik ver weg nie. Hy is altyd verlossend, roepend, teenwoordig.
Ons kan miskien by Maria leer wat ons met sulke verrassende momente moet maak.