Wat is in ʼn naam? Die Evangelie van Matteus noem twee Name van Jesus met sy geboorte: Immanuel en Jesus.
Die Naam Immanuel verbind die Kind wat gebore is aan die Ou Testament. Immanuel is in Jesaja 7 binne die konteks van ’n moeilike politieke besluit en ’n gebrek aan vertroue as ’n teken aan die koning van Juda gegee. Kyk, naby en klein, dáár is die redding. In ’n kind.
In Jesaja 57:15 kry ons ook die teenstelling van God wat verhewe én naby is: “Ek woon in ’n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes.”
Een kommentaar beskryf die Naam Immanuel as deel van die vreemdheid van Kersfees. Die Naam wat troos, is ook die Naam van die Verhewene wat naby is – altyd genesend. Later in Jesaja 57 staan daar dan ook: “Vrede vir dié wat ver is, vrede vir dié wat naby is, sê die Here” (v 19).