Jesus se menswording word so uitstekend verwoord in hierdie sin wat ek iewers raakgelees het: “The stuff of the earth is also the stuff of God.”
Die wonder en die diepste boodskap van Jesus se menswording is juis dat God ten diepste oral en altyd teenwoordig is, dat Hy sorg, lei, bewaar en verander, juis in die morsigheid van die lewe.
Jesus is nie soos ’n feetjie wat uit die lug neerdaal en blink poeier oor alles uitstrooi en ons lewe in ’n kits perfek en rein en heilig maak nie. Nee, Jesus word mens in al ons mensheid. Hy wys vir ons dat God te midde van ons swakheid en sonde en selfsug en oomblikke van lyding steeds by ons teenwoordig is en in ons lewe werk.
Dat God in ons lewe werk, beteken nie Hy neem ons weg uit die lewe nie. Hy is immers God met ons. Hy het immers ons vleeslikheid aangeneem. Soos Johannes 1 sê, Hy het sy tent, sy tabernakel, onder ons kom opslaan.
In Suid-Afrika kan ons sê: God het tussen ons kom plak.