“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is” (Matt 7:21).
’n Mens kan Christus as Here met jou mond verkondig sonder dat jou lewe daarvan getuig. Want nie elkeen wat vir Jesus “Here, Here” sê, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hulle wat die wil doen van die Vader wat in die hemel is (Matt 7:21). Praat en doen, getuienis en lewe moet ooreenstem.
Dalk is dit die rede waarom die kerk dikwels so sonder krag in hierdie wêreld is: Ons praat so maklik; ons doen so moeilik. Mahatma Gandhi, die bekende leier van Indië, het eenkeer met die volgende woorde sterk kritiek op die Christelike kerk uitgespreek: “As ek ’n Christen sien wat is soos die Christus wat hy verkondig, sal ek ook een word.” Wat ’n aanklag! Dit laat ’n mens dink dat ’n Boeddhis ons as Christene so tot selfondersoek moet dwing …
Christus moet in al die sfere van ons lewe verkondig word: met woord en daad, met mond en gesindheid. As ek myself ’n Christen wil noem, moet ek dit ook in my huwelik en in ander verhoudings wees, in my huiskring, in my optrede teenoor my werknemers, teenoor die bedelaar voor my deur, teenoor die vrou by die kasregister in die supermark, teenoor die petroljoggie. Ek moet oral laat blyk dat ek deel is van die Christelike kerk. Wie weet, dalk kyk die Gandhi’s van hierdie wêreld vandag juis na jou. Gaan hulle ’n Christen sien? Gaan hulle Christus sien? Gaan hulle Christene word?
“As ek ’n Christen sien wat is soos die Christus wat hy verkondig, sal ek ook een word.”
Here, gee tog dat my dade by my woorde sal pas. Amen.
Johan Cilliers