Ek skrywe vir julle, liewe kinders, omdat julle sondes vergewe is in die Naam van Jesus (1 Joh 2:12).
Individualisme is die kenmerk van ons Westerse samelewing. Ons leef asof elkeen net op hom- of haarself aangewese is, net op sy of haar eie kragte en insigte moet staatmaak. Die (ongeskrewe) reël lui: Elkeen vir homself, en na die duiwel met die res. Daarom moet jý alles uithaal om bo te kom, om te presteer, al beteken dit jy trap in die proses op ander. Dis immers ’n kwessie van die oorlewing van die sterkste.
Die Bybelse denke oor mense, en in die besonder oor die kerk, is totaal anders. Augustinus het in navolging van die Skrif van die kerk as familiae Dei (die familie van God) gepraat. In hierdie familie is daar groot verskeidenheid, kom daar soms – soos in enige familie – verskil van mening voor. Soms is daar pynlike verwydering tussen familielede. Maar deur dit alles heen weet ons: Ons hoort bymekaar! Ons is broers en susters. Deur ons Broer Jesus Christus het ons ’n Vader. Die kerk is ons moeder (Calvyn). In hierdie familie is daar verskillende stadiums van geloofsgroei. Daar is byvoorbeeld die kinders, die vaders en die jongmense in die geloof (1 Joh 2:12-14).
Maar ons is een: God het ons, nog voordat die wêreld geskep is, uitgekies om heilig en onberispelik voor Hom te wees (Ef 1:4). Word gewoond aan hierdie familie. Soek hulle op. Jy gaan ’n ewigheid saam met hulle deurbring.
Ons het ’n Vader deur ons Broer, Jesus Christus. Die kerk is ons moeder.
Here Jesus, Broer! Bring my vandag tuis by my mense – u mense. Amen.
Johan Cilliers