Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus (Gal 6:2).
Die “gemeenskap van die heiliges”, die kerk, is ’n gemeenskap wat sorg vir ander, wat meeleef en omgee vir mekaar. Hierdie gesindheid kan baie vorme aanneem. Paulus sê onder meer in Galasiërs 6:2 dit beteken ons kan mekaar se pyn nie ignoreer nie, maar moet mekaar se laste dra. Dan voeg hy by: “Gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.” Hierdie omgee vir mekaar onderskei ons juis as kinders van God, as mense wat volgens Christus se wet van liefde leef. Hierdie manier van doen ken die koue en onpersoonlike wêreld natuurlik nie. In die wêreld geld die wet: Elkeen vir hom- of haarself.
Hierdie mentaliteit is ongelukkig van tyd tot tyd ook in die gemeenskap van die heiliges te sien. Soms is ons soos ’n klomp bobbejane wat in die bome langs ’n snelvloeiende rivier baljaar. Hulle swaai heen en weer, klouter en maak ’n groot lawaai. Een van die bobbejane misreken hom met ’n sprong en beland in die rivier. Onmiddellik is daar ’n geskokte stilte. Al wat bobbejaan is, weet: Die bobbejaanbroer is op pad bokveld toe. Hulle hou hom angstig dop totdat hy, al spartelend en proesend, deur die stroom om ’n draai weggevoer word en uit die oog verdwyn. Die oomblik toe hy uit hulle gesigsveld verdwyn, bars die lawaai weer los en al wat bobbejaan is, klouter en klim lustig voort, asof niks gebeur het nie. Uit die oog, uit die hart …
Is jy in jou gesindheid teenoor jou naaste soos “bobbejaan se kind”? Of is jy God se kind?
Ons omgee vir mekaar onderskei ons as kinders van God.
Christus, dra my, sodat ek ook ander kan help dra. Amen.
Johan Cilliers