Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het (Heb 10:23).
Dit laat ’n mens baie geborge voel om te weet dat jy nie alleen op die geloofsweg hoef te gaan nie, dat jy omring word deur jou geloofsgenote. En al hierdie broers en susters in die geloof deel die een gemeenskaplike hoop wat ons bely. Die Hebreërbrief moedig ons aan met die woorde: “Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” (Heb 10:23).
Oor die hoop dat God alles sal doen wat Hy beloof het, sê die Hebreërskrywer drie dinge: Eerstens, ons moet styf vashou aan ons hoop. ’n Mens kan dit dus uit jou hande laat val. Jy kan in die genade veragter. Dis nie sommer ’n vanselfsprekende saak nie.
Tweedens, dit is opvallend dat dit nie slegs enkelinge is wat aan dié hoop moet vashou nie, maar die hele geloofsgemeenskap, die “ons”. As ons as individue te swak is om die hoop voor oë te hou, is die gemeente daar om ons te ondersteun. Dit gebeur wanneer ons met mekaar daaroor praat, dit met mekaar deel, dit saam beleef.
Derdens kom hierdie belofte by: Ons moet styf vashou … maar God is getrou; Hy doen wat Hy beloof het! Uiteindelik hang die vashou aan die hoop nie van ons af nie, maar van God se onwankelbare trou.
Gryp dus na die hoop, en hou styf daaraan vas. Ontdek dat jy nie alleen is nie. Daar is gelowiges om jou, en God is by jou.
Dit is nie net enkelinge wat aan die hoop moet vasklou nie, maar die hele geloofsgemeenskap.
Here, ek hou vas, want U is getrou. Amen.
Johan Cilliers