“Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie” (Luk 14:27).
Die ou kerkvaders het dikwels na die gemeenskap van die heiliges wat nog op aarde is, verwys as ecclesia militans (die strydende kerk). Want hieroor moet ons geen illusies hê nie: Wie volgelinge van Jesus wil wees, sal hulleself moet verloën, hulle kruis moet opneem en Jesus volg (Luk 14:27). Dit beteken jy lê jou ou bestaan af, ook jou eie wil, jou begeertes, belange en voorkeure – ter wille van die koninkryk van God.
Daar word ’n legende oor Petrus vertel wat nie histories bevestig kan word nie, maar wat die hegte verband wat die vroeë kerk tussen lyding en die navolging van Jesus gelê het pragtig illustreer. Volgens hierdie legende het Petrus onder die bewind van keiser Nero in Rome ’n marteldood gesterf. Hy is ook gekruisig, volgens die teregstellingsmetode van daardie tyd. Maar sy wens was om onderstebo gekruisig te word aangesien hy hom nie waardig geag het om soos sy Meester te sterf nie.
Nie almal van ons sal soos Petrus of die ander martelare op ’n wrede manier, tot die dood toe, vir ons geloof hoef te betaal nie. Dalk word ons net beledig. Maar vir ons is dit al erg genoeg. Maar Petrus sê hierdie verrassende woorde:
“Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ’n bewys dat die Gees van heerlikheid, die Gees van God, op julle bly” (1 Pet 4:14).
Voel jy vandag onderstebo omdat jy Jesus wou volg en teenkanting ervaar het? Dink aan Petrus! En dra die bietjie belediging wat na jou kant toe kom met blydskap.
Dra die bietjie belediging wat na jou kant toe kom met blydskap.
Here, dankie dat ek U kan volg. Al slaan my dissipelskap my soms onderstebo. Amen.
Johan Cilliers