“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe” (Matt 6:14-15).
Wanneer ons bely: “Ek glo aan die vergewing van sondes,” is hier twee dimensies van vergifnis betrokke: ’n vertikale dimensie, dit wil sê, God vergewe ons, en ’n horisontale dimensie, dit wil sê, ons moet ook ander mense vergewe. In die Bybel is daar ’n onlosmaaklike band tussen hierdie twee dimensies van vergifnis. Dink byvoorbeeld aan Jesus se uitspraak in Matteus 6:14-15: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”
Maar let nou op: Jesus sê nie hiermee dat ons vergifnis van ander mense die voorwaarde is op grond waarvan God ons (moet) vergewe nie. Dit spel eerder die logiese gevolg uit van ons vergifnis deur die Vader. Die Duitse teoloog Schabert sê onder meer hieroor: “Wie vergewe is, vergeef ander, en wie ander vergewe, word vergewe.” Die een is soos die ander! Dit is soos mense wat op pad is: Hulle kom iewers vandaan en gaan iewers heen. Wie ander mense vergewe, kom altyd iewers vandaan – vanuit die vergifnis van God; maar hulle is ook altyd iewers heen op pad – om ander te vergewe. Dat ons die voorneme het om ander mense te vergewe en dit dan ook doen, is ’n bewys van God se genade in ons lewe (Heidelbergse Kategismus, Sondag 51, Vraag 126).
Het jy al God se vergifnis gesmaak? Laat ander dan ook.
“Wie vergewe is, vergeef ander, en wie ander vergewe, word vergewe.”
Here, skenk my die genade van vergifnis, om uit genade te vergewe. Amen.
Johan Cilliers