Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Eers Maria se pad, dan die res

Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel (Ps 27:4).

Vir gewone mense – en ek bedoel doodgewone mense – is daar plek aan die Here se voete. Titels, posisies, prestasies of kwalifikasies is geen voorvereiste vir rus in sy diens nie. Dit gaan slegs oor hoe jy na die Here toe kom en wie jy in en by Hom is.

Vir te lank het die idee in my kop vasgesteek dat om groter en meer dinge vir die Here te doen die enigste manier is om sy aandag te trek. Dankie tog vir Maria wat eerste dinge eerste geplaas het: om aan Jesus se voete te gaan sit en na sy woorde te luister.

Johan Geyser het gesê: “Dissipelskap begin met ’n ontdekking van wie Jesus is.” Ons moet eers stil word by Jesus, ontdek wie Hy is en wat ons identiteit in Hom is. Daarna gaan dit oor doen. Anders gestel: Doen is gesetel in wie jy voor Jesus is. As doen nie voortspruit uit die diep rus aan die Here se voete nie, veroorsaak dit stres.

Ons primêre roeping is nie om Marta se pad te volg nie, maar Maria se pad. Ja, Marta met haar besig-wees en dinge het ook ’n plek, maar dan sonder haar gejaagde hart. Dit is egter die tweede beweging, die tweede tree. Eerste dinge eerste, en dit is om by Jesus te rus. Net dit. Oor en oor en aanhoudend.

Daaglikse rus is nodig. Dit is elke dissipel se voortdurende uitdaging. Om hierdie lewensbelangrike eerste beweging te systap, is om Marta se gejaagde pad te kies. Dan dryf take en programme jou aan. Dan brand jy uit. Dan leef jy sonder innerlike krag. Ware groei en vrede en rus is slegs te vind op die pad wat Maria gekies het.

Terloops, daar is nog baie plek by Jesus se voete.

Here, U weet dat ek partykeer kop eerste in die “doen” van dinge wil inspring. Help my om, soos Maria, eers die beste deel te kies: om by u voete te rus. Eers daarna kan ek die lewe sinvol aanpak. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.