Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Geheime agent

Smaak en sien dat die Here goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil! (Ps 34:9, 1933/1953-vertaling).

In Walter Isaacson se biografie oor Steve Jobs, die eienaar van Apple tot kort voor sy dood, haal hy Jobs aan: “The juice goes out of Christianity when it becomes too based on faith rather than on living like Jesus or seeing the world as Jesus saw it.” Geloof word heel eerste geproe en gedrink. Daar is geen sap oor in enige vorm van geloof wat hierdie hartskonneksie verloor het nie. Kennis maak saak. Maar kennis wat net in ons kop bly vassteek, bly bloot inligting.

Om mense met nog inligting toe te gooi, help nie. Slegs kennis wat met ons harte praat, bring transformasie. Ons harte bepaal ons lewe. Ons rituele, preke, Bybelstudies, saamwees en die res van ons lewe moet eerstens hartlangs gebeur. Anders word dit kunsmatig met godsdienstige aarvoeding aan die lewe gehou. As ons hartsnare nie saamspeel nie, dans ons lewe nie saam nie.

Om kennis oor die Bybel te versamel, kan nooit ’n doel op sigself wees nie. Laat ek net namens myself praat: Vir te lank het ek kennis bymekaargemaak, asof die een wat die meeste Bybelkennis het, wen. Soos ’n geheime agent het ek inligting oor God ingesamel en in ’n dik lêer gebêre. Ek het die een dossier ná die ander oor Hom en al sy uitsprake oor mense oopgemaak. By teologiese kongresse het ek my gemeet aan ander teologiese “geheime agente”, algemeen bekend as teoloë. Vele van hierdie teologiese kennisversamelaars het dan ook tot die gevolgtrekking gekom dat die Bybel ’n ou en uitgediende boek is wat slegs ’n paar nadoodse ondersoeke verdien. En dat ’n mens eintlik niks wat daarin geskryf staan meer hoef te glo nie. Wonderwerke was volgens die verslae van party “ondersoekbeamptes” slegs menslike konkoksies.

Dalk is dit wat met geloof gebeur wat nooit verder as die verstand vorder nie. Wat nie uitgeleef word nie. Die Bybel gaan tog nie in die eerste plek oor ons informasie nie, maar oor ons transformasie.

Here, laat ek nie tevrede wees met ’n kop-geloof nie; help my om U met my hele wese te dien. Ek wil self smaak en sien dat U goed is, soos Dawid in Psalm 34:9 sê. Laat my geloof meer deur transformasie as blote informasie gekenmerk word. Amen. 

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.