Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Beitel- en kaptyd

Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? vra die Here. Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel (Jer 18:6).

Genadiglik is nie alle teoloë besig met nadoodse ondersoeke op die Bybel nie. Vele Godvresende vroue en mans bevind hulle hier, soos my vriend Jan van der Watt. Daar in Nederland, waar hy ’n uitnemende professor by die Radboud Universiteit in Nijmegen is, het hy ’n ruim spasie vir die Woord van God oopgebreek. Wanneer ek elke jaar ’n maand of meer daar deurbring, het ek ’n vry hand om die Bybel as die lewende Boek van God te respekteer en te gebruik.

Die Here moes egter eers aan my beitel en kap om die skuif te maak vanaf ’n kopaangedrewe besig-wees met die Bybel na ’n hartaangedrewe lees en bestudering van die Woord. Ek moes leer die Bybel is nie bloot ’n kennisboek nie. Dit is ’n lees-en-leef-boek. Die Bybel is nie ’n uitgediende ensiklopedie oor God nie. Die Bybel is ook nie bedoel vir dié wat dossiere oor God probeer opbou sonder om enigiets anders met hierdie kennis te doen as om dit neer te pen in onleesbare, dik teologiese boeke of in nog kerklike verslae wat spoedig stof vergader nie. Die Bybel is God se boek waarin sy hart geopenbaar word namate sy storie met sy volk deur die eeue ontvou.

Ek het eenkeer gehoor: “You cannot buy character over the internet.” Nee, karakter kan nie gekoop word nie, net gevorm word. En die Bybel is ons lees-en-leef-boek om ons hiermee te help. God se Woord is hoe God die Pottebakker die klei, dit is ons, tot sy beeld vorm en hervorm.

Hemelse Vader, ek plaas my lewe in u hand sodat U my karakter soos klei kan vorm. Ek vertrou op U. Help my om die Bybel te lees en te leef, en dit nie net met my kop te bestudeer nie. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.