Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die Gees bring die gevoel terug

Dit is tog duidelik dat julle ’n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense (2 Kor 3:3).

Die Bybel is die enigste boek waarvan die Outeur altyd persoonlik by jou is wanneer jy dit lees. Die Woord word lewend wanneer die Heilige Gees begin werk, wanneer Hy die regte God-taal op ons harte skryf.

In deel 1 van God se groot storie met die mens, die tyd van Moses, was die wet die eerste godsdienstige taal wat mense moes aanleer. Tog was hierdie einste wet op klip geskryf. Die probleem was dat mense se koppe en harte net so hard soos hierdie klip was. Dit het nie lewe in oorvloed gebring nie. Inteendeel, die dood het gewen. Klipharte het dowe ore, blinde oë en hardkoppige lewens tot gevolg gehad.

Deel 2 van God se storie met die mensdom begin met Jesus en die Gees se koms. Die Heilige Gees het die regte raad vir klipharte. Hy vervang klipharde harte met sagte en nuwe harte. Hy plaas die Woord binne-in ons. Hy verander ons in Jesus se lewenslange nuwe skryfpapier waarop Hy God se storie oorskryf.

Paulus sê ons is lewende briewe van Christus wat ander mense kan lees. Hoekom het ek dit nie vroeër al besef nie? Hoekom het ek nooit ingesien dat die Gees die lewende nuwe ink van God is wat my in ’n brief van Christus verander nie? Uiteindelik het ek egter opgehou om ’n kennisversamelaar te wees. En hierdie skuif het my verander in ’n ervaarder en doener van die Woord. Nou is die Woord vir my soos heuning. Dit is ’n lewensgeur en feeskos. Dit roer my hart se snare.

Om die Woord te lees is om dit ook te praat en te doen. Dit is nie net ’n boekrak-boek wat een keer per dag ’n vinnige vers of twee aan my moet opdis nie. Nee, die uitdaging is om die Skrif op elke lewenspad te laat saamreis. En om God nuut te ervaar met ’n hart wat lewend gemaak is vir sy nuutste bewegings. Die Gees roer nuut en diep in my wanneer sy skryfwerk gebeur. Wanneer sy koninkryk sigbaar deurbreek en verlore eiendom tuiskom, bruis daar opnuut opgewondenheid. Wanneer mense rus vind aan God se voete, borrel vreugdeliedere vanuit nuwe harte. En die God-musiek weerklink.

Here Jesus, skryf u liefdesbrief aan die wêreld op my hart sodat almal wat my pad kruis iets van U sal beleef. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.