Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Ons is meer as ons woorde

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Rom 12:2).

My gevoelens en diep verlangens na God is ’n inherente deel van my menswees. ’n Boek van die neurowetenskaplike Antonio Damasio het my gehelp om dit beter te verstaan. In sy boek The Feeling of What Happens: Body and Emotion in the Making of Consciousness toon hy aan dat bewussyn hand aan hand met gevoelens loop. Ons emosies vorm ons bewussyn. Ons hoef nie eers te dink voordat ons bewus raak van wat gebeur nie.

Emosies help ons om blitsvinnig te handel sonder dat ons alles elke slag hoef te deurdink. Indien iets ons bedreig, sal ons emosies en die gepaardgaande chemiese stowwe ons op hierdie gevaar laat reageer. Emosies is ligjare vinniger as denke en help ons met die veg-of-vlug-reaksie. Ons denke help ons weer om ons emosies te verwerk.

Ons emosies is die interne skakelaars wat ons tot aksie laat oorgaan. En ons denke volg altyd kort op ons emosies se hakke. Ons ervarings uit die verlede speel ’n groot rol hierin, al gebeur dit onbewustelik. Daarom moet ons sorg dat blinde emosies nooit die oorhand oor ons kry nie. Ons emosies is bedoel om ons te laat oorleef, nie om ons lewe oor te neem of te beheer nie.

Wysheid is om te weet ons skuld ons emosies altyd ’n tweede, goed deurdagte opinie. Wysheid is om toe te laat dat die Here ons denke verander en vernuwe op die spoor van Romeine 12:1-2. Ons moet met wysheid voel, dink en doen. Ons wil is altyd sterker as ons gevoel, al gebeur dit stadiger. Hoor mooi: Ons is nie uitgelewer aan ons emosies nie. En gesonde denke keer ongesonde, afbrekende gevoelens.

Die Here het ons aanmekaargeweef om diep te voel. Hy het ons as geestelike wesens geskep, ontwerp vir dink, leef én voel saam met God. Ons is sy wandelende verteenwoordigers, mense wat ’n hemelse hartoorplanting beleef het. Daarom moet ons leer om ons denke en emosies by mekaar uit te bring. Ons moet leer om diep te voel en diep te dink. En om te praat sonder om altyd woorde te gebruik.

Liewe Vader, dankie dat U my met emosies geskep het om U en die wêreld te kan beleef. Vernuwe my denke sodat my gedagtes en emosies vir U aanneemlik sal wees en ek u wil sal kan onderskei. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.