Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry (Rom 8:22-23).
Die diep sug na God en ’n dieper belewenis van sy krag, liefde en nabyheid moet op die regte kennis gebou word, op die waarheid dat God by ons is. Tog vat dit nooit die dieper verlange na God weg nie. Dit bly ons lewenslank by. Al is Jesus die lewende brood en water wat ons honger en dors vir altyd wegneem, is dit ook waar dat die Gees hierdie diep sug na God lewenslank in ons harte brandend hou. Ons leef op die hoogspanningsdraad tussen die “reeds” en die “nog nie”. Ons is reeds by Jesus, maar die volheid wag nog op ons.
Ons smag na nog meer van God se nabyheid, selfs al is sy liefde, oorvloed en krag reeds in ons midde. Nooit sal Jesus se dissipels ’n punt bereik waar hulle kan sê: “Ek het genoeg geloof,” of: “Ek beleef die Here voldoende” nie.
Soms ervaar ons God so intens dat ons saam met Thomas Aquinas, die groot Middeleeuse teoloog, wil uitroep dat ons God so diep beleef dat ons nie woorde het om oor Hom te praat nie. Die bewussyn van God se grootsheid plak jou tong aan jou verhemelte vas en laat jou soos Jesaja aan sy voete neerval. Diep ervarings van die Here moet nooit verwar word met arrogante getuienisse of aangeplakte emosies nie. ’n Ware ervaring van God lei tot stilte. Dit ruk die vals maskers van ons af en laat ons nakend voor Hom staan.
Ander kere tref windstiltes ons geloofslewe. In sulke tye wil ons saam met Martin Luther sê: God is nie hier nie. Hy is weg. Soms beleef ons hierdie “gevoel van afwesigheid” omdat ons te veel stories glo dat “groot” gelowiges die hele tyd diep kontak met die Here beleef. Wel, die goeie nuus is dat die ware geloofshelde van die Here ook stryd en vreemde windstiltes ken. Soms beleef reuse soos Martin Luther twyfel-oomblikke. Gewone gelowiges soos ons is dus nie uit pas wanneer ons dieselfde stryd ervaar nie. In sulke tye is die wonder dat dit die Gees is wat ons dieper innooi op God se roete.
My God, U weet dat ek hier tussen die “reeds” en “nog nie” diep na U sug en verlang, en soms in die windstiltes voel U is nie hier by my nie. Dankie dat ek kan weet dat selfs dan u Gees in my werk en U my dieper innooi na my reis met U. Amen.