Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak (2 Kor 10:4-6).
“Ek word nie genoeg geestelike kos by my kerk gegee nie,” sê iemand onlangs in ’n geselskap. “Net babas word gevoer,” reageer ’n vrou dadelik. Toe gaan sy voort: “As ’n vyfjarige kind steeds met ’n lepel gevoer word, flikker daar gevaarligte.” Net daar tel sy haar Bybel op en sê vir die geestelik uitgehongerde: “Hier is jou geestelike kos. Neem, eet, lees en groei!”
Inderdaad is God se Boek ons daaglikse spys en drank. Saam met Esegiël en Johannes moet ons God se woorde gereeld eet. Dit sal ons laat groei in die Here. Dit sal ons volwasse in ons geloof maak. Ook sal dit help dat ons die regte geestelike gevoelens omarm.
Gevoelens omring al ons belewenisse, soos ons reeds gesien het. Helaas is ons brein lui en dit verkies al die ou bekende paaie en ervarings wat diep in ons koppe verpak is. Om energie te spaar en om ons te help oorleef, gebruik ons brein hierdie ou “kaarte” van die werklikheid gedurig, met of sonder ons toestemming. Daarom sê ek gereeld ons brein is nie outomaties ons vriend nie.
As ons nie bewustelik en aanhoudend ingryp en ons gedagtes in die Naam van die Here gevange neem nie, soos Paulus in 2 Korintiërs 10 skryf, wag daar moeilikheid op ons. Ons brein het deur die jare heen kaarte van ons belewenisse opgebou en gestoor, saam met ons reaksies hierop, en gebruik dit graag as kompas in nuwe situasies. Daarom word ons spoedig, soms onbewustelik, die slagoffers van ons uitgekerfde kopkaarte.
Tensy ons in die Here se Naam in ons gedagtepatrone ingryp en nuwe kopkaarte vorm.
Here my God, dankie vir u Woord wat my daaglikse spys en drank is. Gebruik dit om my te vorm en my ou kopkaarte uit te daag en te verander sodat ek verkeerde gedagtes gevange kan neem en my kop en hart aan U gehoorsaam sal wees. Amen.