Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Nuwe verpakkings

Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid (Ef 3:17-21).

Ons hoef ons nie skuldig te voel wanneer ons nie so diep beleef wat ander mense tydens Bybelstudies, preke, aanbiddingsgeleenthede of kerkkampe beleef nie. Ons hoef ook nie sleg te voel as ons moeg geluister is na dieselfde soort preke oor dieselfde temas nie. Voordat jy my verkeerd verstaan, natuurlik is die evangelie se basiese inhoud ewig en oral dieselfde, maar dit mag nie aanhoudend in uitgediende verpakkings versprei word nie.

Kom ons sê dit eerlik vir mekaar: Sommige aanbiedings van die Goeie Nuus in ons tyd het so voorspelbaar en vervelend geword dat kerke oral leegloop. Dit voel asof alles in sommige godsdienstige kringe byna outomaties gebeur. Krimpende eredienste is wie weet hoeveel keer die gevolg van ervaringshonger mense wat nie oor en oor dieselfde kan hoor, sing of ervaar nie. Verveeldheid met oorbekende dinge is een van die redes vir ’n vuisvoos godsdiens by vele mense.

Onontdekte skatte wag egter in die Skrif om opgediep te word. John Maynard Keynes sê tereg: “The difficulty lies, not in the new ideas, but in escaping from the old ones, which ramify into every corner of our minds.”

Nuwe skatte van die Woord lê verpak in vele onontginde tekste en in vars gesprekke, preke en saamgesels hieroor. Nuwe ervarings van die Here se genade wag op ons elkeen. Dis te sê, as ons die moed het om van die ou en bekende hoofpaaie af weg te draai, waar almal oor en oor dieselfde godsdienstige praatjies hersirkuleer en dieselfde skuldgevoelens in stand hou.

Wanneer ons die diepte van God se Woord en die rykdom van sy skatte, waaroor Paulus so jubel in die Efesiërbrief, begin opsoek, wag daar dieper ervarings van die Here op ons as gelowiges. Nee, ons hoef nie kunsmatige, oppervlakkige emosies na te jaag nie. In die Woord en aan God se voete is daar oorgenoeg nuwe genade, blydskap en vreugde.

Here, partykeer raak ek gewoond aan die voorspelbare verpakkings waarmee ek U dien. Dankie dat daar eindelose skatte in my lewe saam met U is, skatte wat net wag vir my om dit te ontdek. Help my om U te vind in onontginde tekste en vars gesprekke. Ek wil graag meer van U ontdek en beleef. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.