Boodskap vir Vandag

Search

Begeer liefde

Ek druk julle dit op die hart, ek wat ’n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe (Ef 4:1-3).

Wat sou gebeur as ons die emosies wat God in ons lewe wil sien, sou begin koester? En hoe weet ons wat die regte emosies is, daardie soort emosies wat God in ons lewe wil hê?

Die Bybel is nie onduidelik oor die feit dat die liefde loshande wen nie. Ons is gemaak én oorgemaak om lief te hê. Dit is die liefde wat die belangrikste emosie in ons lewe moet wees. Vanuit die liefde sal die ander regte emosies voortvloei. Maar van watter soort liefde praat ons hier?

Agape, daardie liefde waaroor die Nuwe Testament skryf. Hierdie liefde wat God vir ons het en wat ons vir mekaar moet hê, is egter nie net ’n emosie nie. Agape is ten diepste onvoorwaardelike lojaliteit. Agape word vanuit ons nuutgemaakte wil aangevuur. Agape gebeur wanneer ons die Gees toelaat om sy skoonskrif bo-oor ons wil en emosies te skryf. Agape is nie van die regte gevoelens afhanklik nie, maar lei altyd tot die regte gevoelens. Daarom dat ons selfs ons vyande kan liefhê, mense vir wie ons aanvanklik geen goeie emosies koester nie.

Agape word éérs geleef en later gevoel. Die oorsprong en gerigtheid van agape is God self. Efesiërs 5:1-2 sê: “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was.” In Christus is die liefde gesetel. En Christus se liefde is mededeelsaam en opofferend. Jesus self is die sigbare bewys hiervan. Sy aardse lewe van selfprysgawe, lyding en dood is agape in lewende lywe. Agape is ’n diep hunkering na God. En agape se brandstof is die nimmereindigende begeerte na nog meer van die Here se lewe in ons.

Liefdevolle Vader, help my om altyd in liefde op te tree, al voel ek nie noodwendig liefdevol nie. Ek begeer nog meer van u liefde in my lewe. Kweek agape in my hart, vir U en vir u wêreld. Amen.

Koop ’n Koffie

Ondersteun Christelike inisiatiewe teen die prys van ’n koppie koffie

Maak ’n Dankoffer

Deel jou dankbaarheid deur ’n dankoffer

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap elke dag

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms

Bybels vir Almal

Help om God se Woord in elke huis te bring

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.