Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Begeer meer

Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou (2 Kor 5:17-18).

Dissipelskap gaan oor verhoudings, ’n verhouding met Jesus, met ander mense, met ons omgewing en selfs oor ons verhouding met onsself. Janlu Kuyler skryf: “Dissipelskap se grootste uitdaging is verhoudings, en verhoudings is moeilik in ons eeu. Dis vandag makliker om teksboodskappe of e-posse te stuur as om oor te ry na iemand toe en by ’n tafel te gaan sit en gesels. Dissipelskap is egter verhoudings – ’n verhouding met Jesus en ’n verhouding met ander.”

Helaas het ons verbruikersgedrewe samelewing ons laat wegdryf van verhoudings en ons in materiële begeertes laat vasval. Ons is eindelose verbruikers wie se geluk afhang van al daardie dinge wat ons nog moet hê. Dis nou te sê, as ons die “evangeliste” vir hierdie leefwyse glo. Ek praat nou van die advertensiewêreld. Ons inkopiesentrums beliggaam vir baie mense “what it means to be happy, fulfilled and flourishing”, sê James Smith in Desiring the Kingdom. Te midde van die blink uitstallings in die winkelvensters wat die “goeie lewe” op verskillende maniere uitstal, word sommige mense se begeertes vir ’n wyle vervul … totdat ’n volgende begeerte op die toneel verskyn.

Wanneer die Gees sy wil in ons laat seëvier, wen nuwe begeertes egter. Nuwe harte, nuwe oë, nuwe gesindhede is gelyk aan diep en nuwe hunkerings na God. Om by Jesus te wees is om meteens in ’n radikaal nuwe wêreld te wees. Toe ons in Jesus vasgeloop het, het alles verander. Terloops, hierdie ontmoeting was noodlottig. Ons ou self het doodgegaan. By die kruis het hierdie ou mens van ons gesterf en is saam met Jesus begrawe. ’n Nuwe mens het direk ná hierdie begrafnis opgestaan. Saam met Jesus het ons nuwe lewe daar begin. Ons het nou splinternuwe harte waarop die Gees skryf. Ons is nou in staat om diep te voel en na God te smag. Ons wil God en ander mense liefhê. Ons is herbou en herbedraad vir liefde, God se soort liefde. Ons harte klop vuurwarm wanneer ons sy liefde ervaar en doen, want “discipleship is the result of a fatal head-on collision with Jesus. One’s old self dies while a new person is raised up”.

Skepper-God, dankie dat U my nuutgemaak het. Hou aan om my te vorm met nuwe begeertes en nuwe oë wat dieselfde begeertes het as u hart. Ek wil diep voel vir u skepping en diep smag na U. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.