Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Kweek die regte gevoelens

Verder … alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees (Fil 4:8-9).

Ons is nie gevangenes van ons geskiedenis of ons ou self en ons klipharte nie. Om waarlik mens te wees, is om diep en reg te voel. Meer nog, om reg te voel, is om iemand na God se hart te wees. En hoe voel jy reg? Deur die regte gevoelens te bedink en jou lewe die hele tyd daarop te rig. Hoor weer: Dit gaan oor die regte gedagtes en om jou lewe daarop te rig.

Van die regte gevoelens gepraat: Die gevoelens wat die Here in ons lewe wil sien, is sy vreugde en vrede. Ongelukkig wen die gevoelens wat ons in ons lewe vertroetel uiteindelik. Hoe meer ons haat en bitterheid kos gee, hoe groter groei dit in ons. Later sien, hoor en beleef ons net bitterheid, negatiwiteit en woede. En geen vrede en vreugde nie.

Dit waarop ons ons gedagtes rig, word uiteindelik deel van ons menswees. Ons weet immers dit wat ons by die hekke van ons denke inlaat, is vir ons belangrik en ons gee daaraan voorkeur. As ons die hele tyd afbrekende of negatiewe gedagtes in ons gedagtewêreld toelaat, gee dit spoedig vorm aan ons lewe.

Hier is dan die heel belangrikste beginsel as jy na nuwe gevoelens in jou lewe smag: Leef gerig! Om reg te voel en reg te begeer moet jy jou lewe op Christus rig. Hy is die enigste ware noord. Stel jou lewe op Hom in. Hoe doen jy dit? Deur Hom opnuut in sy Boek te leer ken. Hoe meer jy sy Boek lees en oordink, hoe meer kom jy agter wat Jesus bly maak en wat nie. En jy sal jou gedagtes rig op alles wat Hom bly maak.

Here, help my om my gedagtes altyd te rig op wat mooi, reg en van U is. Ek wil my hele lewe volgens u wil instel, want U is my ware noord. Al hoe ek dit kan regkry, is deur tyd met u Woord deur te bring. Help my om u stem te hoor wanneer ek my Bybel lees. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.