Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Dissipelskap-stories: Dissipels op die pad

Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Joh 13:34-35).

Liesel Krause-Wiid, ’n predikant én suksesvolle sakevrou wat haar dissipelskap in albei velde uitleef, vertel:

Hoe lyk ’n dissipel van Jesus? Jesus sê in Johannes 13:35: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” Ek dink dissipelskap is om God se liefde vir die wêreld te wys.

Daar is ’n storie van ’n kaalvoetseuntjie wat een ysige winterdag voor ’n winkelvenster gestaan en staar het na al die lekker kos op die rakke. Sy kleertjies was vodde en sy maer lyfie bewend. ’n Middeljarige vrou het die seuntjie raakgesien en nader gestap. Sy het met hom begin gesels en van sy hartseer omstandighede gehoor. Toe druk sy die klein lyfie teen haar vas, neem hom aan die hand en stap die winkel binne. Hy het vir hom iets gekies om te eet en daarna het sy vir hom ’n warm baadjie en skoene gaan koop. Toe sy saam met hom na die bushalte loop, vra hy: “Is tannie God?” Sy het net geglimlag en geantwoord: “Nee, maar ek is een van sy kinders!” Die seuntjie sê toe: “Ek het sommer geweet tannie is deel van daardie familie!”

As teologiestudent het ek saam met ’n Christelike organisasie tydens TUKS-week by Margate uitreikwerk gedoen. Terwyl al die studente gekuier en die einde van die jaar gevier het, het ons vir hulle van Jesus vertel. Teen die einde van daardie week het ek een aand uitgeput gesit en wag vir die bus om ons te kom oplaai. ’n Baie aantreklike, halfdronk manstudent het hom langs my kom neerplak en lustig begin gesels. “Kan jy glo dat hier wraggies ’n klomp droë Christene by TUKS-week is wat ons pret wil bederf en vir ons wil preek, en dit ná ’n baie harde jaar,” het hy sinies gesê.

Min het hy geweet ek is een van daardie “droë Christene”. Maar ek het doodstil gebly en net geluister. Later het ek soos Petrus van ouds gevoel, wat vir Jesus verraai het. Ek vermoed as ons eerder verhoudings met ons medestudente gebou en minder vir hulle gepreek het, sou dit ’n groter impak op hulle lewe gehad het.

Here Jesus, U weet dat ek graag ’n goeie dissipel van U wil wees. Help my om die regte geleenthede raak te sien wat U oor my pad stuur sodat ek aan daardie mense u liefde kan gee, of dit nou met my woorde of met my dade is. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.