Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die dwarslat is te hoog

Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla. As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien. As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen (1 Pet 4:8-11).

“Die dwarslat is net te hoog. Ek kom nooit oor nie.” Nee, dit was nie ’n atleet se woorde aan my nie. Dit was ’n opregte man, ernstig opsoek na die Here se wil. Boonop was dit onder my preke dat hy tot hierdie dwarslat-gevoel gekom het. Terwyl ek lank hieroor getob het, vertel ’n sakeman eendag oor ’n koppie koffie vir my ek help hom nie juis Sondae in die kerk nie. “Nadat jy die Tien Gebooie gelees het, sê jy elke keer daar is tyd vir ons om in stilte na te dink oor ons tekorte en sondes, en om met God hieroor te praat.”

“Ja … ” sê-vra ek huiwerig.

“Wel, ek het nog skaars begin dink, dan sê jy al weer amen. Ek het ongelukkig nie so min sondes soos die res van die gemeente nie. Jy sal my baie meer tyd as dit moet gee,” gaan hy voort.

Toe begin ek regtig luister na gelowiges se stories sonder om hulle te probeer fix. Tot my verbasing het ek ontdek vele toegewyde gelowiges voel dat hulle dit nie maak op die Here se pad nie. Hulle steek dit maar net goed weg vir ander gelowiges wat so uitgesorteer lyk. Tog het ek ook iets mooi agtergekom: Ten spyte van baie se vrees dat hulle die volheid van God misloop, kom hulle steeds getrou kerk toe. Of hierdie stroom getroues sal volhard, is egter ’n ander vraag.

Nuwe navorsing wys dat mense vinniger wegdraai van die kerk as ooit tevore en dat eertydse getroues begin tou opgooi. In die titel van een van Dan Kimball se boeke hoor ek al hoe meer mense wat sê: “I like Jesus, but not the church.” Dit hoort nie so nie. Die ware kerk, as liggaam van Christus, is ’n wonderlike gemeenskap. Dit is die bruid van die Here. Dit is die appel van sy oog, vol liefde en gasvryheid. Daar waar leraars en gemeentes die Here liefhet, word gelowiges steeds opgebou. Daar gebeur mooi dinge. Ons durf nie toelaat dat die Here se mooi werke hier vervaag nie. Maar dan sal ons die dwarslat reg moet stel.

Here, dankie vir die geskenk van u kerk en dat U deur ons as u liggaam op aarde die wêreld wil genees. Bewaar my dat ek ander nie sal laat voel dat die dwarslat te hoog is nie. Help my om hartlik lief te hê en te dien, soos U in u Woord vra. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.