Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees. Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die Bewaker van julle lewe (1 Pet 2:24-25).
As ’n jong leraar, en later as dosent in teologie by Tuks, het ek so eerlik as wat ek kon oor my geloofslewe begin nadink. Dit was nogal ’n skok om agter te kom ek kon ’n groot deel daarvan opsom met twee frases:
“Te min.”
“Te laat.”
“Te min, te laat,” het ek gereeld oor my godsdienstige lewe gevoel. Of wanneer ek ’n geestelike boek gelees het. Of wanneer ek by ’n kerklike kamp was. Dan was ek altyd deel van die “te min, te laat”-groep. Nooit was die Here regtig tevrede met my nie. Nie eens my beste pogings was vir Hom goed genoeg nie. Soos een van die politieke leiers van daardie tyd, het ek gedink God wys gedurig vir my ’n vinger. Op sy weegskaal was ek veels te lig. Ek het dit nie gemaak nie.
So intens bewus was ek van hierdie “te min, te laat”-gevoel dat ek dit selfs eenkeer misbruik het toe my ma my gevra het hoekom ek so stout is. Ek antwoord haar so ewe: “Ma, die doopformulier, wat ons dikwels Sondae in die kerk hoor, sê ons is tot niks goeds in staat nie en tot alle kwaad geneig.” Terwyl sy ’n oomblik onkant gevang was met hierdie snelbal van haar bekkige kind, het ek voortgegaan: “Ek kan nie help ek is stout nie. Ek is tot niks goeds in staat nie.” Maar my ma was gou weer op haar stukke: “Die kerk leer dit dalk, maar ek gaan jou ten minste maniere leer!”
Dank die Here ek het vandag die maniere wat my ma my geleer het, én ek is intens bewus van die waarheid dat Jesus in my plek goed genoeg was.
Here Jesus, dankie dat U ter wille van my u lewe aan die kruis opgeoffer het. Ek is jammer dat ek soms vergeet dat ek nou ’n nuwe mens is, skoon gewas deur u bloed. Ek hoef nooit te voel dat ek dit nie maak nie, want U het dit namens my gemaak. Amen.