Boodskap vir Vandag

Search

Geen kitsresepte nie

Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou (2 Kor 5:17-19).

“Jy moet jou lewe uitsorteer!” Dit was my een juffrou se gunsteling-sin. Maar dit was nie net hierdie juffrou wat gedurig op ’n uitsorteer-missie was nie. Wanneer Ou Dominee die dag ernstig gepreek het, moes ons almal uitgesorteer word. Ek moet sê, ek het nog altyd gewonder hoe sorteer ’n mens jouself uit. Lank het ek gedink dit werk soos ’n legkaart, waar jy eers die raam bou en dan al die stukke van dieselfde kleur bymekaar sit en begin bou totdat alles saam ’n prentjie vorm. Maar legkaart bou was lekker; my juffrou se soort uitsorteer nie! Grootmense het die woord “uitsorteer” net gebruik wanneer hulle kwaai en ons stout was …

Dis nogal ’n skok as jy die dag ontdek jy kan jouself nie uitsorteer nie. Hierdie besef is egter een van die belangrikste ontdekkings wat jy ooit voor die Here sal maak. Die kerk kan jou nie uitsorteer nie. Ook nie jou pa, ma of die juffrou op skool nie. Ons is magteloos om onsself uit te sorteer. Ons dreig mekaar maar net met uitsorteer-sessies. Ons wil graag anders wees. Dis ook reg so. Nie een van ons wat die Here liefhet, wil gedurig in ons eie gemors rondlê nie. Ons wil graag opstaan en nuut begin. Ons wil onsself regruk.

Die dilemma is net dat dit waaraan ons raak, geneig is om in probleme en sonde te verander. Daar is nie regtig drie maklike stappe na ’n nuwe self nie. Al bemark vandag se selfhelpghoeroes graag dat hulle mense kan help om hulleself te help, werk dit nie so nie. Daar bestaan nie kitsresepte om jouself uit te sorteer nie. Ons kan nie ge-fix word soos jy ’n motor se enjin fix nie.

Ons elkeen is eiesoortig aanmekaargeweef en uniek bedraad. Te midde van die sewe miljard mense hier op aarde is ons elkeen ’n eenmalige, unieke mens. Daarom is daar geen kliniese regruk-resepte in die Bybel wat ons slaafs op almal kan toepas en … Siedaar! Skielik is ons ge-fix en uitgesorteer nie.

Ons hoor: “Jy moet jou lewe uitsorteer” … maar uiteindelik moet ons besef: Net God maak ons nuut. Dit alles is die werk van God.

Here, U weet dat ek soms ongeduldig is en soek na vinnige stappe om myself uit te sorteer. Dankie dat U my klaar met U versoen en ’n nuwe mens gemaak het. Help my om U te vertrou om u nuutmaak-proses met my enduit te voer en my al hoe nader aan U te bring. Amen.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.