Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Ef 2:8-10).
Hoekom het Paulus in Romeine 8:26 geskryf: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie”? Want hy het iets geweet wat die meeste Christene vergeet of nog nooit ontdek het nie: Die Gees van God die ware bidder. Die Gees is die grootste voorbidder ooit. Boonop bid Hy elke keer enduit. Hy word nie moeg, verveeld of flou nie. Die Gees bid wanneer ons uitasem raak. Hy bid wanneer ons woorde opraak. Hy bid selfs wanneer ons vol asem is en wanneer die woorde vinnig oor ons lippe rol. Ook bid Hy nog lank daarna. Die Gees is aan diens wanneer ons van diens af is. Hy tree in wanneer ons uittree. Hy bid onophoudelik in ons plek. Hy hou die hemelse naelstring met God lewend.
So ondervang die Gees swak mense soos ons se spartelende gebede. Hy is meer genadig met ons as wat ons ooit met onsself kan wees. Dit was en is steeds ’n skok om Romeine 8 se woorde te lees oor die Gees wat namens my bid. Dit sit so diep in my binneste vas dat ek God nie kan tevrede stel nie dat ek nog gedurig in my kop hoor: “Skuldig, skuldig!” wanneer ek weer in my gebed gefaal het. Of wanneer ek weer die “te min, te laat”-gevoel kry.
Tog is die Gees juis dan ook aan diens. Nooit vat Hy af wanneer ek probeer afvat nie. Hy bly getrou. Hy is die Here. Hy het ons lief. Hy het ons lief ten spyte van wie en wat ons is, nie as gevolg van al ons geestelike prestasies nie. Die Gees aanvaar ons met al ons foute en tekorte. Hy bly met ons besig, al die pad. Nooit gee Hy moed op met ons nie. Nooit nie!
Die Gees sal nie toelaat dat enigiets of enigiemand ons uit sy hand of die Vader se hand ruk nie. Praat van ’n greep van genade! Praat van ’n genadige God! Hy is enduit by ons.
Here, dankie dat U die God van genade is, wat namens my deur u Gees aanhou bid, selfs wanneer ek kortasem is. Dankie dat u liefde nie afhang van my geestelike prestasies nie. Help my om lief te hê soos U liefhet. Amen.